Bisley – Die Langafstand Skyfskiet Sport

- deur SW Cullinan

“Bisley??? Wat is dit?”  Praat met sportskuts oor Bisleyskiet en dit is die tipiese reaksie.

Bisley word geskiet op papierteikens oor afstande van 300m (300 treë) tot en met 900m (of 1000 treë). Daar is verskeie kategorieë waarin gekompeteer word, elk met sy eie toerusting en rëels. Daar word hoofsaaklik op militêre skietbane geskiet wat beskik oor die nodige fasiliteite en afstande, tans is daar nie baie geskikte bane in privaat besit nie.

Gaatjievisiere

Die “tradisionele” vorm van Bisley is met gaatjievisiere, geskiet uit die lê houding met slegs ‘n skietbaadjie, handskoen en geweerband as ondersteuning. Die kalibers toegelaat is die NAVO militêre dienskalibers, maw .223Rem en .308Win. Die .308Win is by verre die mees gewildste. Daar is egter beperkings tov die koeëlgewig, by die .223Rem mag koeëls nie 81gr oorskry nie, en met die .308Win mag dit nie 156gr oorskry nie. Om die nodige vlak van akkuraatheid te verkry, is handgelaaide ammunsie aan die orde van die dag, dit bied ook ‘n finansiële besparing teenoor gekoopte ammunisie.

Bisley Image

Geskikte gewere vir Bisley skiet is nie geredelik beskikbaar in die handel nie, meeste Bisley gewere word pasgebou met kwailtiet komponente. Dit is met gaatjievisier-skiet waar die bekende Musgrave RSA enkelskoot aksie en gewere groot naam gemaak het, plaaslik sowel as internasionaal. Vroeër jare was Musgrave, Ferlach en later Vektor lope die gewilde fabrikate gewees. Plaaslik is daar geskiet met uitgereikte militêre ammunisie, wat gelaai was met 143gr volmantel koeëls, die beste resultate was verkry met 1-14” draai lope, met stywe boor- en groefdimensies, sowel kleiner dimensie kamers.

Bisley Image

Sedert handgelaaide ammunisie toegelaat word, gebruik almal die verskillende 155gr Match HPBT skyfskiet koeëls. Vlekvrye staal lope van vervaardigers soos Krieger, Bartlein, Border, Broughton, Shilen, Obermeyer, Maddco, Tobler en talle ander is gewild, meestal met groefdraaie van 1-13” of 1-12”. Looplengtes wissel tussen 30” en 32”, en die medium Palma kontoer is baie gewild. Kamers word gesny op “match” dimensies, soos bv die “Palma ‘95” dimensie kamerruimers.

Aksies wat gebruik word is steeds die immergroen Musgrave RSA, alhoewel hulle skaars begin word, asook die doelgerigte enkelskoot skyfskiet aksies soos die Barnard, Millenium, RPA, CG Inch en vele ander.

Bisley Image

Kolwe wat gebruik word is baie geskoei op die Anchutz “match” styl in hout, veselglas en gelamineerde kolwe wat baie gewild is. Baie het verstelbare wangstukke, almal het een of ander vorm van “bedding”, met die lope wat “free float”.

Daar is ‘n beperking op die snellergewig, snellers mag nie ligter breek as 500g nie. Gewilde snellers vir die Musgrave RSA is die Davies “2-stage” sneller van Australia. Die doelgerigte enkelskoot aksies kom almal toegerus met uitstekende verstelbare snellers.

Gewilde gaatjievisier fabrikate is die RPA “Trakker”, Warner en “Central” visiere. Hulle stel meestal in ¼ minuut verstellings. Voorste korrels is gewoonlik van die hoogte verstelbare “leêrtjie”-tipe, voorbeelde is die RightSight en RPA.

Bisley Image

Beide die voor en agter visiere word toegrus met verstelbare irrise, wat die grootte van die gaatjies beheer. Lense word toegelaat in die visiere om visie-tekorte te korrigeer.

Bisley Image

Daar is geen beperking op die gewig van die kompleet geweer nie, meeste skuts se gewere gebou met bg komponente weeg tussen 6 en 6.5kg. Die geweer moet uit die skouer vanaf die elmboë met slegs ‘n geweerband as ondersteuning geskiet word, te veel gewig is nadelig.

Bisleyskuts laai hulle ammunisie met 155gr koeëls teen snelhede tussen 2950 tot 300vps, uit 30” tot 32” lengte lope. S335 en S355 dryfmiddel is baie gewild, met kwaliteit fabrikaat doppe en slagdoppe. Baie skuts behaal ½ MOA 10-skoot groeperings met die kombinasie, wanneer die snelheid standaard afwyking  neig na enkel syfers.

Een van die kenmerke van gaatjievisier Bisley en reëls is dat daar gepoog word om ‘n “gelyke speelveld” te skep, waar die vaardighede van die skut getoets word, en prestasies nie gekoppel word aan tegnologie en kwaliteit/prys van die skut se toerusting nie.

Om die posisie van skote op die teiken te kan sien, gebruik Bisleyskuts  “spotting scopes”, dit word ook gebruik om veranderings in die mirage te sien. Gewilde fabrikate is Kowa, met vergrotings wat wissel tussen 15x en 25x.

F-Klas

F-klas Bisley het ontstaan met die doel om gaatjievisierskuts met skete, gebreke en verswakte sig te akkomodeer, sodat hulle steeds kon bly skiet. Aanvanklik was die idee om slegs ‘n teleskoop op ‘n gaatjievisier geweer te monteer en oor ‘n rus te skiet. F-klas Bisley het egter ontwikkel in ‘n gewilde en volwaardige dissipliene, tans met 2 verskillende afdelings waarin gekompeteer word. Optiese visiere (teleskope) word togelaat, met geen beperking op die vergroting nie. Gewilde fabrikate is Leupold, Nightforce en Sightron, met vergrotings tot 32x. Om te verseker dat daar genoeg elevasie verstelling is om tot op 900m te kan skiet, monteer almal 20MOA voetstukke waarop die teleskoop ringe pas. Daar is geen beperking op die snellergewig in engie van die F-klasse nie.

F-TR

Tans is dit die vinnigste groeiende afdeling in Bisley. Kalibers wat toegelaat word is, soos by gaatjievisier, slegs die .223 Rem en .308 Win. Daar is egter geen beperkings op die koeëlgewig nie. Slegs ‘n tweepoot staander (bipod) as voorste rus en agterste sandsak mag gebruik word vir ondersteuning, terwyl uit die lêposisie geskiet word. F-TR gewere mag nie 8,25kg oorskry nie, dit word bepaal met die bipod gemonteer op die geweer. F-TR bipods word doelgerig gebou, om stabiliteit te verseker, maar met min gewig.

Bisley Image

F-Ope

F-Ope is die Formule 1 van Bisley. Hier kan met enige kaliber tot en met 8mm geskiet word, uit die lêposisie vanaf enige tipe voorste rus en met agterste sandsakke. “Rail guns” waar die voorste en agterste rus aan mekaar geheg is, word verbied. Die gewigbeperking vir F-Ope klas gewere is 10kg. Gewilde F-Ope kalibers is onder andere die 6.5-284, .284 Win en die .300 WSM. Koeëls met hoë BC waardes wat windskuif verminder is aan die orde van die dag.

Bisley Image

Daar word ook met .303 en swartkruit (voorlaaier) gewere met gaatjievisiere geskiet, in hul eie klasse, tot op 900m.

Teiken dimensies

Bisley word geskiet op kortafstande (300m, 500m en 600m) en langafstande (700m, 800m en 900m). Daar is slegs 3 teikens, die 300m teiken, ‘n gesamentlike teiken vir 500m en 600m, en ‘n langafstand teiken wat vir 700m, 800m en 900m gebruik word. Teikens bestaan uit ‘n houtraam met papierskyf daarop vasgeheg met ‘n ronde swart mikpunt, wat verskillende dimensie sirkels bevat, met telling waardes.

Die waardes tel vanaf ‘n 1 tot ‘n 5, die 5-ring bevat nog ‘n kleiner v-kol stippellynsirkel om gelykop tellings te skei. Die teikendimensies (in mm) op die verskillende afstande word in die tabel aangedui. F-klas teikens se 5-ring en v-kol dimensies is die helfte kleiner, daar is dus n ekstra telring by.

Bisley Image

Die teiken word na elke skoot wat gevuur is afgetrek in die skietgat, en die posisie daarvan gemerk met ‘n skootaanduider, die waarde van die skoot word ook aangedui met ‘n waardeaanduider. Wanneer ‘n nuwe skoot op die teiken gevuur word, word die vorige skoot toegeplak en die skootaanduider geskuif na die nuwe koeëlgat, die waardeaanduider word dan dienooreenkomstig verander.

Bisley Image

Organisasie

SABU (Suid-Afrikaanse Bisley Unie, www.sabisley.com) is die beheerliggaam van Bisley in Suid- Afrika, daar is 9 provinsiale unies, elk met hul eie klubs. Plaaslik word daar gereelde oefeninge en prysskiete aangebied op klub en provinsiale vlak, terwyl die SA Ope Kampioenskap jaarliks plaasvind, gewoonlik in Bloemfontein, waar verskeie Internasionale lande kompeteer. Daar word in individuele en spanverband geskiet. Tydens individuele skiet kompetisies, moet elke skut sy/haar eie windverstellings doen, terwyl in spanverband daar spesialis windafrigter/s is wat die windlesings gee.

Elke 4 jaar vind die wereldkampioenskappe plaas, wat roteer tussen deelnemende lande wat optree as die gasheer. Bisley is ook ‘n Statebond Spele sportsoort. Dit is een van weinige sportsoorte waar mans en dames op gelyke vlak meeding. Daar is egter ook ouderdomsgroepe waarin gekompeteer word.

Gedurende Augustus 2015 vind die volgende Wêreld Langafstand Kampioenskappe plaas in die VSA. Die Protea span is tans besig met ‘n fondsinsamelingpoging om die span te help finansieer, elders in die uitgawe is daar meer besonderhede oor die fondsinsameling waar groot pryse gewen kan word.

Toekoms planne

Om Bisley wyer blootstelling te gee, is ‘n nuwe konsep geloods, die Jagters Bisley. Hier word geskiet met jaggewere op die bekende bok teikens op die Bisley manier, maw wanneer ‘n skoot gevuur is, word die teiken gemerk om die posisie van die koeelgat aan te dui, om sodoende die skut die geleentheid te gee om die skootposisie te korrelleer met die heersende atmosferiese toestande. Sodoende word die vaardigheid ontwikkel om die atmosferiese toestande beter te interpreteer en dienooreenkomstige verstellings te maak.

Bisley Image

Die Springbok teiken word op 300m geskiet, die Blesbok teiken op 500m en die Blouwildebees teiken op 600m.

Die ideè het ontstaan a.g.v. die wydverspreide belangstelling in langafstand skiet verder as die gebruiklike Jagters skiettabelle tot slegs 300m, Bisley is juis ‘n langafstand (300 tot 900m) skyfskiet sport. Die SAJWV het nou reeds ‘n langafstand skietkompetisie op Piet Joubert-skietbaan buite Pretoria aangebied in 2013 en 2014, beide was uiters suksesvol en gewild.

Die wenners van die 2014 kompetisie op die Piet Joubert-skietbaan skryf hulle prestasie toe aan die kennis en ondervinding wat hulle gekry het a.g.v. hulle deelname aan die Jagters Bisley. Die meeste deelnemers noem dat hulle min of geen kennis het om die mirage en windkondisies te”lees” nie, hierdie is ‘n gulde geleentheid om daardie vaardighede aan te leer en te bemeester. Indien u dus u langafstand skietvermoeë wil verbeter, probeer gerus die uitdagende skietsport.

Kontak SABU op kantoor nommer (012) 361 4966 of besoek die webwerf by www.sabisley.com vir meer besonderhede oor u naaste Bisley klub.